To read the full article on Landbou.com, click here.
Storting: Pluimveebedryf hoop op spoedige aankondiging
by: Carien Kruger
Voorlopige teenstortingstariewe van tot 265% het die bedryf sedert 17 Desember 2021 beskerm teen stukke aan die been uit Brasilië, Denemarke, Ierland, Pole en Spanje, asook borsvleis uit Brasilië. Dié tariewe verval vandag, 14 Junie.
Mnr. Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die braaihoenderorganisasie van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV), het vroeër vandag gesê volgens hul inligting het die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) sy ondersoek afgehandel.
Die volgende stap is dat mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, ’n aankondiging maak en die finale tariewe in die Staatskoerant afkondig.
“Ons verwag dat die minister enige tyd van nou af ’n aankondiging sal maak. Hy het 60 dae tyd om dit te doen. Dit sal ’n dramatiese uitwerking op die bedryf hê indien ons vir 60 dae sonder die tariewe is.”
Die Staatskoerant word gewoonlik Vrydae gepubliseer hoewel daar soms spesiale uitgawes is.
Die voorlopige tariewe is ingestel nadat die SAPV in Februarie verlede jaar by Itac daarom aansoek gedoen het en Itac dit ondersoek het.
Breitenbach sê dit is belangrik om in ag te neem dat Itac dus reeds storting en materiële skade aan die Suid-Afrikaanse bedryf as gevolg hiervan bevind het.
Afwykings?
Die persentasies van die finale tariewe kan dalk verskil van die voorlopige tariewe s’n, maar Breitenbach sê op grond van die vrae wat hulle vanjaar van Itac moes antwoord, verwag die SAPV nie materiële afwykings nie.
Itac het wel reeds die afgelope ses maande sekere tariewe gewysig, maar Breitenbach sê dit was tariewe vir spesifieke maatskappye in die betrokke lande, nadat die maatskappye voorleggings gemaak het oor foute in die berekenings. Itac het nie die algemene tariewe verander nie.
Invoer het verlede jaar afgeneem, maar in Maart vanjaar is meer ingevoer as in Maart 2021. Breitenbach skryf dit toe aan groot hoeveelhede hoender wat sonder teenstortingstariewe uit Amerika ingevoer is, as deel van ’n onderhandelde kwota wat sonder dié tariewe ingevoer kan word in ’n twaalfmaandetydperk wat elke jaar in Maart eindig.
Verder is daar in dié maand ook 5 000 ton hoenderstukke aan die been uit Argentinië ingevoer. Breitenbach sê dié land het as’t ware die ruimte ingeneem wat gelaat is deur die verbod op invoer uit Europese Unie-lande weens voëlgriepuitbrekings daar. Die verskillende verbiedinge geld steeds.